Die aktiewe bestanddeel in FENTANYL FRESENIUS is fentaniel en dit behoort tot 'n groep medisyne genaamd opioïed analgetika. FENTANYL FRESENIUS is 'n sterk pynstiller wat gebruik word in narkose of om erge pyn tydens/na chirurgiese prosedures/operasies te verlig.
1. Wat FENTANYL FRESENIUS is en waarvoor word dit gebruik
2. Wat jy moet weet voordat FENTANYL FRESENIUS aan jou gegee word
FENTANYL FRESENIUS moet nie aan jou gegee word nie:
- indien jy hipersensitief (allergies) is vir fentaniel of vir ander opioïede
- indien jy probleme het wat jou asemhaling aantas, insluitend chroniese brongitis of emfiseem
- indien jy onlangs 'n operasie van die galblaas of galbuise gehad het
- indien jy onder die invloed van alkohol is
- indien jy kopbeserings of verhoogde druk in die skedel het
- indien jy 'n asma-aanval het
- indien jy hartversaking saam met 'n longsiekte het
- indien jy medisyne vir die behandeling van depressie neem, genaamd monoamienoksidase-inhibeerders, of binne 14 dae nadat jy sodanige behandeling gestaak het
- aan babas onder een jaar oud, voor 'n operasie
- indien jy aan aanvalle ly
- indien jy in 'n koma is.
Waarskuwings en voorsorgmaatreëls
Lig jou dokter of gesondheidsorgverskaffer in voordat jy ingespuit word:
Neem spesiale sorg met FENTANYL FRESENIUS:
- indien jy longprobleme het of aan asma ly
- indien jy lewer- of nierprobleme het
- indien jy hartprobleme het
- indien jy lae of hoë bloeddruk het
- indien jy baie bloed verloor het
- indien jou liggaam in skok verkeer, bv. wanneer jou organe nie genoeg bloed of suurstof kry nie
- indien jy bejaard of swak is
- indien jy 'n ongekontroleerde onderaktiewe skildklier het
- indien jy 'n alkoholis is
- indien jy al ooit alkohol, voorskrifmedisyne of onwettige dwelms misbruik het, of daarvan afhanklik was ('verslawing')
- indien jy voorheen aan onttrekkingsimptome soos agitasie, angs, bewerigheid of sweet gely het wanneer jy opgehou het om alkohol of dwelms te gebruik
- indien jy 'n roker is
- indien jy al ooit probleme met jou gemoedstoestand gehad het (depressie, angs of 'n persoonlikheidsversteuring) of deur 'n psigiater vir ander geestesongesteldhede behandel is
- herhaaldelike gebruik van opioïed pynstillers kan veroorsaak dat die medisyne minder doeltreffend word (jy raak gewoond daaraan). Dit kan ook lei tot verslawing en misbruik wat 'n lewensgevaarlike oordosis tot gevolg kan hê. Indien jy bekommerd is dat jy afhanklik kan raak van FENTANYL FRESENIUS, is dit belangrik dat jy jou dokter raadpleeg.
3. Hoe om FENTANYL FRESENIUS te ontvang
Aangesien FENTANYL FRESENIUS 'n inspuiting is, sal dit deur jou dokter of gesondheidsorgverskaffer toegedien word. Jou dokter sal besluit op die mees geskikte dosis vir jou spesifieke toestand en ook vir hoe lank jy hierdie medisyne sal ontvang. Jou dokter sal op grond van jou liggaamsmassa, ouderdom en mediese toestand bepaal hoeveel FENTANYL FRESENIUS jy benodig. Indien jy die indruk kry dat die effek van FENTANYL FRESENIUS te sterk of te swak is, lig jou dokter of apteker in. FENTANYL FRESENIUS kan deur 'n inspuiting in 'n aar ontvang word (intraveneus). Daar sal nie van jou verwag word om FENTANYL FRESENIUS aan jouself toe te dien nie. Dit sal aan jou gegee word deur 'n persoon wat gekwalifiseerd is om dit te doen.
Indien jy meer FENTANYL FRESENIUS ontvang het as wat jy moes Aangesien 'n gesondheidsorgverskaffer FENTANYL FRESENIUS sal toedien, sal hy/sy die dosis beheer. In geval van oordosering sal jou dokter egter die oordosering behandel. 'n Breinaandoening (bekend as toksiese leukoënkefalopatie) kan 'n simptoom van oordosis wees.
Indien 'n dosis van FENTANYL FRESENIUS oorgeslaan word Aangesien 'n gesondheidsorgverskaffer FENTANYL FRESENIUS sal toedien, is dit onwaarskynlik dat 'n dosis oorgeslaan sal word.
4. Moontlike newe-effekte
FENTANYL FRESENIUS kan newe-effekte hê. Nie alle newe-effekte wat vir FENTANYL FRESENIUS aangemeld is, is in hierdie inligtingsblad ingesluit nie. Indien jou algemene gesondheid verswak of as jy enige ongunstige effekte ondervind terwyl jy FENTANYL FRESENIUS ontvang, raadpleeg asseblief jou gesondheidsorgverskaffer vir advies. Indien enige van die volgende gebeur, hou op om FENTANYL FRESENIUS te ontvang en lig jou dokter onmiddellik in:
- Swelling van die hande, voete, enkels, gesig, lippe en mond of keel, wat probleme kan veroorsaak met sluk of asemhaling.
- Uitslag of gejeuk.
- Floute.
- Asemhalingsonderdrukking, benoudheid in die bors of lugweë, vinnige of diep asemhaling, onvermoë om asem te haal.
- Aanvalle (konvulsies), verlies van bewussyn, verhoogde druk in skedel.
- Hartaanval.
Hierdie newe-effekte is almal baie ernstig. Indien jy dit het, kan jy moontlik 'n ernstige reaksie op FENTANYL FRESENIUS hê. Jy kan dringende mediese aandag of verdere hospitalisering benodig.
Lig jou dokter in as jy enige van die volgende waarneem:
Gereelde newe-effekte:
- Agitasie (angs of senuweeagtigheid).
- Duiseligheid, lomerigheid, sedasie.
- Voel verward wanneer jy wakker word na die operasie.
- 'n Gevoel dat die wêreld draai (vertigo).
- Naarheid (mislike gevoel) en braking (opbring).
- Hardlywigheid (sukkel om stoelgange te passeer).
- Styfheid of ongekontroleerde sametrekking/beweging van die spiere.
- Oormatige vernouïng van die pupil van die oog (klein pupille), visuele versteuring.
- Veluitslag of irritasie.
- Vinnige, stadige of onreëlmatige hartklop.
- Lae of hoë bloeddruk.
- Aarpyn.
Minder gereelde newe-effekte:
- Hoofpyne, hallusinasies, verwardheid.
- Gemoedsveranderinge, intens gelukkige gemoedstoestand.
- Voel onrustig wanneer jy wakker word na die operasie.
- Geneesmiddelonttrekkingsindroom.
- Maagpyn.
- Hik.
- Bloeddruk wisseling.
- Inflammasie van ‘n aar.
- Sukkel om urien te passeer.
- Koue rillings, voel koud.
Jeukerige vel.
Abdominale pyn, insluitend ontsteekte en geïrriteerde pankreas.
Newe-effekte met 'n onbekende frekwensie:
- Verwarde denke en verminderde bewustheid van die omgewing.
- Geneesmiddelafhanklikheid (verslawing).
- Rusteloosheid.
- 'n Bonsende hartklop.
- Verminderde hoeveelhede urien, pyn in die laer buik.
- Droë mond, sweet, blosende gesig.
- 'n Afname in seksdrang.
- Sukkel om te sluk.
Indien jy enige newe-effekte ondervind wat nie in hierdie inligtingsblad genoem word nie, lig asseblief jou dokter of apteker in.
Aanmelding van newe-effekte
Indien jy newe-effekte ervaar, bespreek dit met jou dokter, apteker of verpleegkundige. Jy kan ook newe-effekte deur middel van die Med Safety APP (Medsafety X SAHPRA) en die eReporting-platform (who-umc.org) op die SAHPRA-webwerf aanmeld. Deur newe-effekte aan te meld, kan jy meer inligting oor die veiligheid van FENTANYL FRESENIUS verskaf.
5. Hoe om FENTANYL FRESENIUS te bewaar
• FENTANYL FRESENIUS sal in die apteek of hospitaalsaal bewaar word.
• Bewaar alle medisyne buite bereik van kinders.
• FENTANYL FRESENIUS moet nie na die vervaldatum wat op die ampule of karton gedruk is, gebruik word nie.
• FENTANYL FRESENIUS moet by of benede 30 °C bewaar word en beskerm word teen lig.
• Indien slegs 'n gedeelte van die inhoud van die ampule gebruik word, moet die oorblywende oplossing weggegooi word.
• Slegs vir eenmalige gebruik.